Wednesday, 20 May 2009

Geloof verloor of nooit geloof gehad?


Ek verwys vandag na 'n artikel in die Beeld, 'Talle verlaat Christen-geloof' .

Ek wil bietjie McKnight se sg. "vyf faktore wat baie mense se Christelike oortuigings in ’n krisis laat beland" ondersoek.

  • Die rigiede leer dat die Bybel onfeilbaar is. Volgens hom berus dit op ’n foutiewe leer by kerke dat die Bybel as’t ware deur God aan die Bybelskrywers gedikteer is. Mense wat die Bybel dan self bestudeer, kom later met ’n skok agter dat daar baie van die menslikheid van die Bybelskrywers in hul geskrifte te sien is.

Blykbaar is hierdie oortuiging wat as 'n fondament van die Christen geloof staan vir 2,000 jaar, skielik volgens McKnight foutief. Nou my verstaan was nog altyd dat as 'n persoon 'n stelling wil maak die onus op daardie persoon berus om feite aangaande sy stelling op die tafel te sit. Ek sien McKnight is vinnig met sy stellings om te beweer die Kerk het 'n foutiewe leer, maar hy saai egter verwarring en gee nooit substansiële bewyse vir sy uitlatings nie. Enige kerk wat nie glo die Bybel is die onfeilbare Woord van God nie, is dit nie werd om 'n kerk genoem te word nie. Mense wat die Bybel bestudeer en dit as feilbaar ervaar, het heel moontlik nie die sleutel tot die verstaan van die Bybel nie.

Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

1 Korintiërs 2:14

  • Die botsing tussen die wetenskap en geloof, spesifiek waar kerke leer Genesis vertel presies hoe die wêreld ontstaan het.

Weereens, McKnight aanvaar sommer die algemene gevoel van die wêreld hieraangaande en doen self nie die moeite om sy voorbeelde van hierdie sg. botsings aan die lig te bring nie. Nou dit is maklik om 'n stelling te maak dat daar botsings tussen geloof en wetenskap is, veral waar kerke leer Genesis vertel presies hoe die wêreld ontstaan het en dit bloot daar te laat sonder om enigsins verder eerlik met die stelling om te gaan. Nou McKnight glo dan sekerlik dat die Oerknal die presiese ontstaan van die wêreld vertel, of iets soortgelyk, maar is McKnight en diegene wat soos hy redeneer eerlik met hulself as hulle dan beweer dat hierdie geloofsisteem (want evolusie is 'n geloofsisteem) nie bots met wetenskap nie? Vir diegene wat hierdie geloof het, dink ek is daar meer botsings met wetenskap as wat hulle die oningeligde Christene van beskuldig. Hulle geloofsisteem is wetenskaplik totaal onmoontlik. Dit kom weer terug op die basiese punt van iets uit niks, iets kan nie uit niks ontstaan nie, dit moet geskep word. Nou ek gee toe, beide die ware Christen en die sekulêre evolusionistiese wetenskaplike begin met 'n hipotese, maar kom ons wees eerlik, evolusie se hipotese werk net eenvoudig nie en skep net meer probleme waarvoor meer hipoteses ontwikkel moet word. Die skeppingsleer se hipotese werk immers en bly konstant sonder verandering.

  • Die manier waarop Christene en die kerk leef. Hy het verwys na die skandale van seksuele misbruik in die Rooms-Katolieke Kerk in die VSA en hoe dit sommige mense laat voel het dat hulle nie met integriteit deel van die kerk kon bly nie.

Nou goed, koms ons begin by die eerste aantuiging, hoe Christene en die kerk leef. As ons eerlik met onsself moet wees dan moet ons die koppe in skaamte laat sak, want hier het dit fout gegaan. Kerke pas nie meer tug toe nie wat veroorsaak dat lidmate in ontug lewe, baie male sonder enige vrug van bekering, maar hulle word geag as Christene en word direk deur mense verbind met die Kerk van Christus. Ons as opsigters het ons taak hier versuim oordat ons mense meer vrees as God en Sy Naam.

Maar dan maak McKnight weereens een van sy fatale foute. Hy gebruik as barometer vir die Christen Kerk 'n instelling wat nie geag word as 'n Christen Kerk nie, die RKK se leer is verwyder van die gesonde leer van Jesus Christus en berus op 'n werke geloof, hierdie kerk is nie 'n geldige voorstelling van hoe 'n Christen Kerk moet lyk of funksioneer nie.

  • Die beskouing van die hel. Baie mense kan nie aanvaar dat dit billik is dat God iemand vir ewig straf vir sondes in ’n tydelike lewe van miskien 75 jaar nie. Hulle vra of die straf nie by die oortreding moet pas nie.

Want baie mense is meer bekommerd oor hul eie humanisme en is so besig om die god van hulle eie lewens te speel of 'n meer aanvaarbare god vir hulself te skep dat hulle nooit uitkom by wie God waarlik is nie. Hierdie is nie 'n probleem wat McKnight met die kerk het nie, hierdie is 'n probleem wat hy met die Woord van God, met God self het. Ek sal berus by die woorde van John MacArthur dat ons nie meer liefdevol as Jesus moet probeer wees nie, maar dat ons sal praat oor die hel.

Dit is ook MacArthur wat in 'n onderhoud dit so treffend gestel het as hy sê “jy kan glo jy kan vlieg, maar as jy van 'n 10 verdieping gebou afspring sal jy steeds sterf.” Jy kan glo daar is nie 'n hel nie, dit vat nie die werklikheid daarvan weg nie.

  • Die “God van die Bybel” wat dikwels voorgehou word, skrik baie mense ook af. Daar word onder meer geredeneer dat as God almagtig is, hy nie goed kan wees nie, anders sou die wêreld nie so vol kwaad gewees het nie. En as hy goed is, kan hy nie almagtig wees nie, want anders sou hy die boosheid gekeer het.

Natuurlik is dit vir ongeredde mense 'n probleem want hulle wil 'n god hê wat hulle sal dien, hulle wil nie hulself plaas onder 'n Oppergesag nie en dit is weens 'n valse leer van evolusie wat impliseer dat daar nie 'n Skepper is nie, as daar nie 'n Skepper is nie, is daar nie 'n Oppergesag nie en is die mens die god van sy eie heelal. Daarom is die probleem wat McKnight en ander soos hy het nie die leer van die Kerk nie, hulle het 'n probleem met God, is vriende van die wêreld en in vyandskap met Hom.

U sien, aan die einde van die dag moet die mens wat sy eie god is redeneer dat waarheid relatief is, want as hy aanvaar daar is 'n absolute waarheid êrens daar buite, besef hy dat hy homself ondergeskik gaan moet stel aan daardie waarheid. Die probleem is hier dat mense nie bereid is om hulle onder die Weg, die Waarheid en die Lewe te stel nie, want dan gaan hulle onttroon word as die god van hul lewens.

Kom ons noem nou maar 'n graaf 'n graaf. 'n Persoon wat 'n probleem het met een van hierdie 5 faktore moet minder bekommerd wees om sy geloof te verloor as wat hy moet besef, daar was nooit 'n werk deur God in hul lewens om mee te begin nie.

No comments:

Post a Comment