Monday, 18 May 2009

Het Christenskap 'n geloof van kompromie geword?

Vir lank is daar al ‘n hewige wroeging in my hart. Christene is besig om die evangelie goedkoop te maak en min, indien enige, is besig om op te staan om die gesonde leer van die Here Jesus Christus te verdedig. Ons het ‘n ruggraatlose samelewing geword wat vir niks meer staan en vir enige iets val.

Seker die mees aangehaalste teksgedeelte in die Woord was altyd Johannes 3:16. Vandag egter, is die teksgedeelte wat jy die meeste hoor Matteus 7:1. Hierdie teksgedeelte word so buite konteks gebruik om mense se humanisme aan te vuur, sodat hulle nooit voor die spieël van ‘n Heilige God se standaard hoef te staan nie. Ons verwerp die oordele van God, want God is liefde, hiermee durf geen van ons stry nie, want ieder en elk van ons is hellelinge, oppad na ‘n ewige verderf en slegs deur die genade van ‘n liefdevolle God kon die skip van ons lewensrigting verander na ‘n veilige hawe. Jy sal egter nooit in die Woord lees dat God liefde, liefde, liefde is nie, ons lees wel Hy is HEILIG, HEILIG, HEILIG. Tog bring ons soveel onheilighede voor die aangesig van ‘n absolute Heilige God. Ons besoedel Sy Heiligdom met ons rebelse lewens en ons onwilligheid om ons lewens in te rig volgens die standaard wat Hy daar gestel het. Ons is vriende van die wêreld en dink steeds ons kan bly gemeenskap hou met God. Jy kan nie. As jou denke meer wêrelds is as op God gefokus, dan moet jy reeds besef, jy het ‘n vriend van die wêreld geword en ‘n vyand van God.

Wat dan is die gesonde leer?

Dat geen mens goed in hom het nie, hy is ‘n rebel wat die god van sy eie lewe wil wees, wat as hy kon, God van Sy troon sou afruk en Hom doodmaak om self op daardie troon te sit, net soos sy vader die duiwel. Hy is tot niks goeds in staat nie. Hy kan die Here nie ken nie, want hy is so totaal deur sy sonde verwyder van ‘n heilige God, dat hy Hom nie kan soek nie en Hom nie wil soek nie. Ons kan maar net Romeine 3 gaan lees om die duisterheid van hierdie prentjie te verstaan.

Die skip van jou lewe is oppad na ‘n hawe van verwoesting en dit is slegs God wat jou rigting kan verander na ‘n veilige hawe. Sonder Hom sal jy daar nie uitkom nie, want jy ken die pad daarheen nie en sal dit nooit vind nie. As jy Hom nie ken nie, ken jy nie die weg na die veilige hawe nie en dus moet jy Hom persoonlik ken sodat Hy die Stuurman van jou skip kan word.

Hoe kan jy Hom ken? Deur perfek, volkome regverdig en totaal heilig soos Hy te wees. En dit is hier waar die krisis van die eeue inkom, hoe kan ‘n absoluut sondige, volkome ongeregtige en totaal onheilige wese wees soos Hy wat die teenoorgestelde is?

JESUS!

Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Johannes 14:6

Enige een wat hierdie evangelie nie suiwer verkondig nie, is nie ‘n gesant van God nie. Ons is nie deur Hom uitgestuur om motiveringssprekers te word, om weeshuise te begin en die hele wêreld te bemoedig en hulle op te tel uit hulle verdrukking nie. Ons is nie deur Hom uitgestuur om gebedsdae vir reën uit te roep en mense op te roep tot gebed vir die wêreld nie. Nee, ons is deur Hom uitgestuur om mense Sy dissipels te maak, hulle te leer in alles wat Hy ons geleer het en hulle te doop in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

Om ‘n dissipel te word van Jesus sal beteken jy begin heilig lewe soos Hy heilig lewe. Dit beteken nie jy gaan nie val nie, dit beteken nie jy gaan nie sondig nie, maar dit sal jou hartsbegeerte wees om in die voetspore te volg van die Man wat reeds deur die dal van die dood gegaan het om jou saam met Hom by die poorte van die lewe uit te bring. Jy kan dit nie word as jy nie saam met Hom en in Hom gekruisig is nie. Jy sal nie met ‘n greintjie selfgeregtigheid deur die oog van die naald gaan nie, jy sal Hom moet toelaat om jou absoluut te verander in dit wat Hy jou wil maak. Klei in die hande van ‘n Meester Pottebakker.

Die dissipel van Jesus sal heilig word. Dit beteken hy sal afgesny word van die wêreld, eenkant gesit word vir diensbaarheid aan God, nie van die wêreld nie, maar ‘n reisiger oppad na ‘n stad waarvan God die fondamente gelê het. Gaan lees Hebreers 11, gaan lees Pilgrim’s Progress, dat jy weer kan verstaan hoe die pad lyk wat geloop moet word, die smal pad waar al wat jou sal deurdra die genade van God en die fokus van jou oog op die ewige stad is.

Hiermee word nooit jou verantwoordelikheid teenoor die in die wêreld negeer nie, daar word nie geimpliseer dat jy nie bid vir reën of die siekes besoek en die gebrokenes bemoedig nie. Al hierdie dinge is ‘n uitvloeisel van die fokus van jou oog, die heiligheid van jou lewe, dit sal voortvloei uit jou verhouding met die Pottebakker want as dit nie doen nie, is dit goed in die wêreld se oë, maar sonde in Sy oë, want dit dien nie tot die verheerliking van Sy naam nie, maar tot die verheffing van die mens.

As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.

Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.

Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.

Kolossense 3:1-4

Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Matteus 6:33

Tog is ons bereid om soveel kompromieë aan te gaan wanneer dit kom by die evangelie. Is die evangelie tog nie vir ons in die Woord opgeteken dat ons dit kan verstaan en volledig kan leer nie? Hoeveel leeraars en kerklidmate is nog bekwaam om die evangelie te verkondig, hoeveel persent van die evangelie wat verkondig word is nog suiwer?

By nadere ondersoek word dit duidelik dat daar in meeste kerke hierdie Sondag nie eers oor die hel gepreek sal word nie. Ons preek nie oor die hel nie, want ons wil nie aanstoot gee nie. As ‘n prediker nie oor die hel preek en die verlore toestand van die mens nie, preek hy nie ‘n suiwer, volledige evangelie nie. Hy preek ‘n mensgebasseerde evangelie wat ontwerp is om mense goed te laat voel en verlore siele valse versekering te gee dat hulle hemel toe gaan terwyl hulle in waarheid oppad is na die hawe van verwoesting.

"Don't try to be more loving than Jesus: Talk about Hell!" - John F. MacArthur.

Jy kan vandag vir iemand vra: Wil jy hemel toe gaan? Meeste sal ja antwoord. Daarom gaan dit nie oor of jy hemel toe wil gaan of nie, ek wil nie hemel toe gaan om in die strate van goud te loop nie, ek wil hemel toe gaan want God is daar! Daar sal ek my Verlosser van aangesig kan beskou. Maar jy sien, meeste wil hemel toe gaan, maar hulle wil nie vir God daar kry nie, want dan gaan jy voor Hom moet staan en rekenskap gee. Hoekom is waarheid relatief in die tyd waarin ons leef? Want as ‘n mens besef daar is ‘n absolute waarheid, dan besef hy, hy gaan hom ondergeskik moet stel aan daardie absolute waarheid. Daardie absolute waarheid is vir ons opgeteken in die Woord, tog bou soveel hulle geloof en sekerheid op emosies. Jy hoor die een ou sê: “God het vir my gesê” en dan die ander “Nee maar God het vir MY gesê” en NIE EEN doen die moeite om te gaan na die absolute bron van waarheid nie. Nee, want as ons gaan moet lewe volgens die aboslute waarheid, dan gaan dit ons begin kos, dit gaan kos dat jy daardie televisie moet afsit, daardie televisie waarmee jy jou kinders vermaak hou sodat jy nie vir hulle hoef aandag te gee nie, maar jy besef nie jy is besig om hom vol riool te prop van ‘n goddelose wêreld nie.

Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God.

Jakobus 4:4

Wanneer ons worstel met ons sekerheid van saligheid of iemand ontmoet wat worstel, dan is ons vol raad, ons is vol bemoediging en sê vir daardie persoon: “Hou op twyfel, dit is net die duiwel wat jou aanval”, want ons basseer ons sekerheid op ‘n gebedjie wat ons eendag opgesê het om die deur van ons hartjie vir liewe Jesus oop te maak. As jy dit doen is jy besig om vir daardie persoon valse sekerheid te gee, jy sal NÊRENS in die Woord vind dat iemand sy hartjie vir liewe Jesus oopgemaak het nie. Daardie teksgedeelte in Openbaring 3 word so buite konteks gebruik en geen, maar geen historiese of hedendaagse gerespekteerde student van die Woord sal met my verskil nie. Die Woord leer egter:

En 'n vrou met die naam van Lídia, 'n purperverkoopster van die stad Thiatíre, 'n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.

Handelinge 16:14

Ons durf nie een wat onder die oortuigingswerk van die Heilige Gees kom valse gemoedsrus gee nie, ons behoort te doen wat Paulus gedoen het, ons behoort terug te gaan na die Woord:

Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie -- as julle ten minste nie verwerplik is nie!

2 Korintiërs 13:5

Maar nee, die mens vandag wil niks met teologie en dogma te make hê nie en deur sulke dwase uitlatings besef hy nie dat hy daarmee impliseer dat hy homself nie sal stel onder die leer en woord van Jesus Christus nie. Ondersoek jouself aan die teologie en dogma van God se Woord of jy waarlik in die geloof is. Wanneer God ‘n werk in ‘n mens begin het, sal Hy dit voleindig, maar hoe weet jy of God waarlik ‘n werk in jou begin het? Nie deur ‘n gebedjie wat jy gebid het of oordat jy opgestaan het na die prediker se uitnodiging om aan te sluit by die kanselpartytjie nie, maar deur jou lewe te meet aan die Woord?

Hoe weet ons of iemand waarlik wedergebore is in vandag se tyd? Dieselfde manier hoe ons altyd geweet het. SY LEWE VERANDER! En die vrug wat hy dra is die vrug van die Gees, sy lewe sal gekenmerk word, nie deur perfeksionisme nie, maar dat hy deur die Gees wandel en nie deur die vlees nie. Jy gaan dikwels deur die vlees handel, maar ‘n ware geredde mens sal nie deur die vlees wandel nie.

Klink hierdie woorde veroordelend? Dit is baie moontlik dat dit vir jou doen, maar dit is nie die woorde van ‘n mens nie, maar die Woord van God. Dit is nie ‘n mens wat hier skryf in veroordeling nie, maar ‘n blote verwysing na die leer van die Woord van God. Besef jy hoeveel liefde dit vat om hierdie te skryf? Ek besef dat baie my sal afmaak as ‘n ekstremis, baie sal my afmaak as wetties, baie sal moontlik nooit weer na my wil luister nie en tog ag ek myself nie bo die leer van Christus nie. Dit is die leer waarby ek sal staan en dit is die leer waarby ek sal val. Vir hierdie leer sal ek met my lewe baklei en elkeen wat hierdie leer verwerp of homself ‘n leeraar, evangelis of gesant van God noem en nie hierdie leer in sy suiwerste vorm verkondig nie, sal ek ook verwerp as ‘n dwaaleeraar.

As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie,

dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het 'n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog,

nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.

Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is 'n groot wins.

Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie.

Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.

Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.

Want die geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.

Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.

1 Timoteus 6:3-11

Op hierdie gronde en hierdie woorde en die totaliteit van die Woord verwerp ek ook enige voorspoeds-evangelie en enige mensverheerlikings-evangelie, hierdie evangelies is aan die orde van die dag en is nie van God nie.

Ons kan nie swak verskonings gebruik dat iemand net ‘n mens is en dus geregtig is om foute te maak nie. Magtig mense, ons praat hier van mense se siele, nie ‘n verkeerde diagnose vir ‘n verkoue wat eintlik ‘n sinusprobleem was nie. Mense gaan dood onder valse versekering oordat hulle nooit die volle evangelie gehoor en geleer het nie, kan ons bekostig om sulke foutjies te maak?

Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons 'n groter oordeel sal ondergaan.

Jakobus 3:1

Daarmee word nie geimpliseer dat ‘n leeraar noodwendig sekulêr geskoold of gegradueerd hoef te wees nie, maar hy moet soliede onderrig in die Woord ontvang het. Hiermee impliseer ons nie jong manne kan nie leeraars word nie en so dikwels word gereken hoe jonger jy is hoe minder is jy in staat om die volle raad van God te verkondig, dit is bloot net nie waar nie. Vir ‘n voorbeeld van beide gevalle sal ek CH Spurgeon se bediening as gebruik. Op 19 jarige ouderdom het Spurgeon tot bekering gekom en is binne ‘n jaar in die bediening in waar hy die leeraar geword het van die toe grootste Baptiste gemeente in Londen. Self was hy ‘n baie jong man, het geen formele akademiese onderrig gehad nie, maar hy was bekwaam met die Woord van God en het die volle raad van God verkondig en bedien. Hy het groot geword in ‘n huis waar sy pa ‘n leeraar was, hy was goed onderrig in die Woord van God en het die studie daarvan sy lewensmissie gemaak. Hy het duisende teologiese boeke in sy eie studeerkamer gehad en was ‘n wel belese man gewees met sy eie universiteit, sy eie weeshuis, sy eie publikasie maatskappy. Gaan lees die biografie van Spurgeon, dit het alles begin by ‘n soeke na die koninkryk van God en ‘n struweling met sy saligheid sodat hy die volle evangelie kon verstaan, tot die dag wat God gekom en gesê het: “Jy is Myne”.

Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees 'n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid.

Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering.

Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge.

Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.

Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.

1 Timoteus 4:12-16

Laat ons ook dus nie versuim om die volle raad van God te verkondig nie, tydig en ontydig, in seisoen en buite seisoen. Laat ons nie die krag van die Woord van God onderskat nie en laat ons nie toelaat dat ons verskonings begin soek om mense aan die gehoor te streel deur ‘n afgewaterde, gebrekkige en valse evangelie te verkondig nie.

Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk:

verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;

want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,

en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

2 Timoteus 4:1-4

Waar gaan ons die lyn van kompromie trek? Hoeveel van die evangelie van Jesus Christus is ons bereid om prys te gee om meer tegemoedkomend te wees? Sal ons die Soewereiniteit, Beskikking en Bepalende Wil van God prys gee en dit ondergeskik stel aan die wil van die mens en daardeur die mens God se instaatsteller maak? Sal ons die absolute verlorendheid en onvermoë van die mens om homself te red, prysgee vir ‘n evangelie waar die mens se werke en keuses om tot geloof te kom, en in geloof te bly, ‘n bydraende rol tot sy saligheid speel? Sal ons die verkondiging van die verdoemenis van die ongereddene in ‘n ewige vuurpoel prysgee sodat ons meer mense in ons kerk kan kry, die skatkis vermeerder en ongeredde mense salig bemoedig en gerusstel deur hulle nie te wys op die hawe van verwoesting waarheen hulle oppad is nie? Sal ons die absolute krag van God waardeur Hy Sy Naam verhoog en Sy Glorie vermeerder prysgee vir ‘n sisteem wat bepaal dat God kragtig genoeg was om jou uit Egipte te bring, maar nooit kragtig genoeg was om jou in die beloofde land in te bring en daardeur toelaat dat die nasies Hom tot bespotting maak?

Maak jou kosteberekening broer, bereken jou evangelie suster, want daarmee gaan jy verantwoording doen voor ‘n regverdige en heilige God.

Hierdie is my heuwel en op hierdie heuwel sal ek sterf.

1 comment:

  1. Dankie Fourie... Hierdie skrywe het werklik tot my hart gespreek. Ons moet begin opstaan vir Jesus en nie toelaat dat ons word soos die spreekwoordelike padda in die kookwater, deurdat ons so "compromise" dat ons naderhand nie meer kan onderskei waar is die lyn tussen die Waarheid en die leuen nie, Puik!

    ReplyDelete