
DIE VURIGE EN KRAGTIGE GEBED VAN DIE REGVERDIGE
Iets wat my onlangs meer en meer pla is kinders van die Here se gebebedslewens, my eie gebedslewe.Hoekom ervaar ons so baie maal dat ons gebedslewens so dood voel, hoekom ervaar ons nie meer die krag van gebed nie?
Die Woord leer ons tog in Jakobus 5 vers 16 dat die vurige gebed van ’n regverdige groot krag het.
Hoekom ervaar ons nie meer hierdie vuur en krag in ons gebedslewens nie?
Is dit dalk oordat ons nie meer bid as regverdiges nie?
As ek kyk na Psalm 24 vers 3-4, dan blyk dit tog die geval te wees. Kom ons begin by hierdie teksgedeelte, dan kyk ons bietjie na wat die Woord van God sê aangaande die soeke na Sy aangesig.
Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek?
Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. Psalm 24:3-4
Ek sal graag wil hê dat ons saam ondersoek wat die Woord bedoel as daar staan iemand moet rein van hande en suiwer van hart wees.
REIN VAN HANDE
Rein van hande beteken vir my dat jy skoongewas voor God kom staan, dat sondes nie aan jou vaskleef nie, dat jy na God toe kom sondeloos. Nou mag jy dadelik vir my sê dat as ek die Woord ken, daar in 1 Johannes 1 vers 8 staan:
As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. 1 Johannes 1:8
Daarmee durf ek immers nie stry nie, maar die Woord stop nie daar nie, die Woord gaan verder en sê in 1 Johannes 1 vers 9:
As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. 1 Johannes 1:9
Jy sien, dit is van absolute belangrikheid dat ons gereining word van alle ongeregtigheid, dat ons hande rein sal wees as ons na God toe wil kom vir ’n ontmoeting. Hierdie reiniging geskied slegs deur die bloed van Jesus Christus, dit is nie vir ons moontlik om onsself te reining nie, maar sonde moet mee gehandel word en dit gebeur as ons na Christus toe kom en ons sondes bely. Die Heilige Gees oortuig die kind van God van sondes, die kind van God moet dan die sondes bely en by die kruis van Christus kom neersit en dan sê die Woord vir ons in Openbaring 12 vers 11:
En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis... Openbaring 12:11
Volharding in sonde
Ek gaan nou ’n baie sterk stelling maak en ek weet ’n baie ongewilde een. Jy kan nie ’n vurige, kragtige gebedslewe hê as jy volhard in sondige weë nie, want jy kan nie rein en regverdig voor God kom staan as jy nie deur Christus gehandel het met sondes deur dit te bely by die kruis nie.
Verstaan ons nogsteeds nie wat by die kruis gebeur het nie? By die kruis is daar gehandel met sonde, jy kan nie na die kruis toe kom sonder ’n sondebesef nie. Die kruis drip nie heuning nie, dit drip bloed.
Gebed van die ongelowige
Ek gaan nog ’n sterker en meer ongewilde stelling maak. Iemand wat nie Jesus as sy Verlosser aangeneem het nie, kan nie eers in gesprek met God tree nie, om nie eers te praat van Sy aangesig soek nie. Hoe kan ek iets so hard sê? Want dit is wat die Woord van God leer.
Wat die Heilige Gees doen tydens gebed
Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde. Matteus 6:6
Wat bedoel die Bybel met verborgene? Ek verstaan dit as die dinge wat nie gesien kan word nie, dit waarin ons ook glo.
Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Hebreërs 11:1
Hoe bid jy dan tot die Vader wat in die verborgene is? Die Woord gee weer vir ons hier die antwoord.
God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Johannes 4:24
En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. Romeine 8:26
Wat Jesus doen tydens gebed
Kom ons gaan verder en kyk wat Jesus vir ons doen.
Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Hebreërs 7:25
Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Johannes 14:6
En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree. Romeine 8:27
Ons kan dus duidelik sien dat dit nie moontlik is om na die Vader te gaan in gebed sonder dat jy Jesus as jou Verlosser het nie, want ons gaan na die Vader deur Jesus Christus onder die leiding van die Heilige Gees. As jy skoongewas is deur die bloed van die Lam, kan jy voor God verskyn in regverdigheid en tot Hom bid deurdat die Heilige Gees jou die woorde gee om dit te kan doen.
Hieruit behoort dit ook duidelik te wees dat as jy nie volkome in Jesus is nie en nie na die oortuiging van die Heilige Gees oor sonde in jou lewe luister nie, jy nie kan verwag dat jy ’n kragtige en vurige gebedslewe sal hê nie.
Sonde behaag God nie
Moet nie vra hoekom jy nie die teenwoordigheid van God in jou binnekamer voel, maar jy stap daar uit en steek nog ’n sigaret aan nie. Want jy sal nie ’n vurige gebedslewe hê nie, ek getuig hier uit persoonlike ondervinding, want ek was daar.
Moenie terwyl jy rondslaap, in die aande in jou bedjie kom lê en vra hoekom God nie jou gebede beantwoord nie. Jou geestelike lewe behaag God nie, jou gebedslewe sal Hom ook nie behaag nie. Gee jy jou liggaam as ’n welgevallige offer vir God? Met ander woorde, ’n offer wat vir Hom aanvaarbaar is.
Jy moet met jou sonde handel voor jy die troonkamer van God wil inkom.
’N SUIWER HART
Dit bring ons dan by die volgende vereiste om op God se heilige plek te staan. Jy moet ’n suiwer hart hê. Maar wat beteken dit? Vir my beteken dit ’n hart wat nie begeer wat die wêreld vir hom probeer bied nie, maar ’n hart wat alles begeer wat vir God goed en aanvaarbaar is. Dit is nie ’n hart wat sê “Here ek wil...” nie. Dit is ’n hart wat vra “Here, wat wil U...?”
Kom kyk saam met my wat die Woord van God ons leer oor so ’n hart.
Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. Romeine 12:1
Die verskil tussen Kain en Abel se offers
Deur die geloof het Abel 'n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is. Hebreërs 11:4
Jy sien, die verskil tussen Kain en Abel se offers was dat Abel se hart begeer het om God te vereer en gelukkig te maak. Kain het sy offer gebring oordat dit vir hom gelyk het soos iets wat hy maar net moet doen. Sy offer het nie oor God gegaan nie, maar oor homself.
En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang. Genesis 4:5
Die hart van Kain in godsdiens vandag
Vandag sien ons steeds soveel mense kerk toe kom, Bybel lees en gebedjies opsê oordat hulle voel dit is die regte ding om te doen, hulle kom nie kerk toe, bestudeer die Woord en spandeer tyd met God oordat hulle harte ’n vurige begeerte het om God te dien, meer van Sy wil in hul lewens te leer en Hom te vereer nie.
Is dit hoe jou lewe lyk? Dan wil ek reguit en duidelik vir jou sê; aanbidding, ware aanbidding, gaan nie oor jou nie. DIT GAAN OOR GOD.
Jou menslike regtetjies, jou egotjie beteken niks voor die Almagtige God nie. Sy wil en Sy Woord is al wat saak maak. Sy Woord is die finale antwoord. PUNT.
Voorbereiding vir ’n ontmoeting met die Allerhoogste
Ek wil graag dit oorbring dat dit voorbereiding kos om die aangesig van God te soek, dat dit tyd op jou knieë is wat jou bring op God se heilige plek, dat jy moet verstaan dat jy in nederigheid niks moet word voor die Skepper van alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie.
Daarmee sê ek nie dat jy nie deur die dag met God kan praat, na Hom uitroep in die uur van nood of Sy beskermende hand oor jou kan vra waar jy deur die dag gaan nie. Ons praat heir van jou intieme vurige binnekamer gesprekke en ontmoetings met God. Daar waar jy geestelik gevorm word.
Jy kan nie net in die troonkamer van God instorm nie. ’n Intieme verhouding met God is ’n voorreg, nie ’n reg nie. Maar is die wat die Woord sê? Ja dit is.
maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie. Jesaja 40:31
Dit is werklik nodig om die tyd uit te koop vir God. Geestelike groei kan nie plaasvind sonder ’n soeke na en ’n wag op God nie. Slegs Hy kan jou vernuwe, slegs Hy is in staat om jou werklik te laat opvaar met die vleuels van die arende. Is jy bereid om soms stil te bly en op God te wag?
Dawid laat sy hart ondersoek
Dawid het die regte idee beet wanneer hy voorberei dat God met hom sal handel. Hy verstaan dat God sy volle wese ken en dat daar niks is wat hy vir God kan verberg nie, dan kom lê hy alles voor God bloot. Hy vra God om sy hart te kom ondersoek, sodat hy sy hart suiwer kan maak en goedkeuring kan ontvang om God se heilige plek, Sy teenwoordigheid, te betree.
Is dit nie dalk waar ons ook moet begin in ons soeke na die aangesig van God nie?
Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg! Psalm 139:23-24
Moses se ontmoeting met God op Sy heilige plek
Toe Moses God wou nader, het die Here hom eers gestop, want die toestand waarin hy op daardie oomblik was, was nie aanvaarbaar vir God nie, hy moes eers iets aflê en agter los voor hy die heilige plek van God betree, hy moes sy vuil stowwerige skoene agterlaat.
Dit is vir my asof sy skoene amper gesien kan word as sy kontak met die vuil wêreld en dat God dit nie gaan toelaat op Sy heilige plek nie. God sê vir Moses:
En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond. Ekodus 3:5
Ester as voorbeeld van voorbereiding
Ons kry uit die boek Ester ’n pragtige prentjie van hoe te werk gegaan moet word om voor te berei vir ’n ontmoeting met ’n koning, hoe jy optree in die teenwoordigheid van ’n koning en wat jy doen om die guns te wen van ’n koning. Hoeveel meer moet ons nie bereid wees om te doen vir die Koning van konings nie? Kom ons kyk na ’n paar belangrike dele uit die verhaal van Ester.
Ek wil begin met die voorbereiding vir die ontmoeting met die koning.
... want so lank het die dae van hulle voorbereiding geduur: ses maande lank met mirre-olie en ses maande met balsem en ander skoonheidsmiddele van die vroue -- Ester 2:12
Hierdie is vir my baie soos die reininging van die hande waarvan Psalm 24 praat. ’n Jaar lank moes Ester voorberei en met skoonheidsmiddele behandel word voordat sy eers toegelaat is om ’n ontmoeting met die koning te hê. Moenie verbaas wees as jy vir God soos Dawid in Psalm 139 vra om jou hart te ondersoek en die Heilige Gees hou jou vir aande wakker met kritiese oortuigings- en reiningingswerk om jou sodoende voor te berei vir ’n ontmoeting met God nie.
God sal jou reining, God sal Sy skoonwassende werk in jou lewe doen. Moenie die fout maak om te dink dit gaan maklik wees nie, dit gaan seer wees, dit gaan iets van jou kos.
Ester se hartsbegeerte
Die ander deel waarna ek wil kyk uit die verhaal van Ester is die begeerte van haar hart, wat vir haar belangrik is tydens haar ontmoeting met die koning.
Toe die beurt van Ester, die dogter van Abígail, die oom van Mórdegai, wat haar as sy dogter aangeneem het, kom om in te gaan na die koning, het sy niks verlang nie, behalwe wat Hegai, die hofdienaar van die koning wat die vroue bewaak, gesê het; en Ester het guns gevind in die oë van almal wat haar gesien het. Ester 2:15
Jy sien, die vroue kon enigiets vanuit die vrouehuis neem vir hul ontmoeting met die koning, hulle kon die pragtigste juwele, die beste reukmiddels vir hulself toegeëin het om daardeur ’n indruk te probeer maak op die koning.
Maar Ester weet dat Hegai die koning ken en dat Hegai sal weet wat ’n indruk op die koning sal maak sodat sy guns in die koning se oë kan vind.
Ester neem dit wat Hegai gesê het, nie omdat sy hom daardeur wil beindruk nie, maar sodat sy guns in die oê van die koning kon wen.
Ester gebruik dus vir Hegai om tot kennis te kom van dit wat die koning sal behaag. So behoort kinders van God die Woord te gebruik om tot kennis te kom van dit wat God sal behaag.
Die fokus van ons hart in ons soeke na die aangesig van God
Dan moet ons fokus net soos Ester sin wees, ons moet nie fokus op onsself en hoe ons lyk of wat vir ons belangrik is nie, ons moet soos Ester gefokus het op dit wat die koning sou behaag, fokus op dit wat God sal behaag. Dit is ’n suiwer hart.
Daar is baie waarhede nog in die Woord, wat vir my wys hoe ek myself moet reining om die aangesig van God te soek. Daar is Johannes die doper, daar is die leering wat Paulus van Jesus af ontvang het , daar is Noag wat die ark bou, Abraham se gehoorsaamheid as hy seker soms nie verstaan het nie, Elia in die grot, maar ek wil afsluit op ’n baie belangrike punt.
HY IS ’N HEILIGE GOD
God is dieselfde gister, vandag en more, God is ’n heilige God.
Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand. Spreuke 9:10
Maar Josua het vir die volk gesê: Julle kan die HERE nie dien nie, want Hy is 'n heilige God... Josua 24:19
Kom jy nog na God toe in aanbidding met respek vir Hom, besef jy nog dat Hy ’n heilige God is?
As jy nie doen nie, kan jy nie op God se heilige plek staan nie.
’N SMEKING TOT INKEER
Dit is nou alles goed en wel, jy kan selfs vir my sê hierdie is inspirerende woorde om mense op te roep tot ware heiligmaking, maar hoekom? Hoekom is dit nodig om my hande te reining en my hart te suiwer?
Party mense het al vir my iets soos dievolgende gesê: “Dit is vir my goed genoeg om net in die hemel te kom, ek gee nie om oor al die res nie”
Tog as ons dit weer meet teen die Woord, dan is hierdie gesindheid nie aanvaarbaar nie.
My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet. Hosea 4:6
En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. Openbaring 22:12
Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak. Spreuke 3:6
Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Hebreërs 8:10
Wil jy werklik aanhou om die oortuiging van die Heilige Gees uit te doof? Het jy werklik geen begeerte om jouself nederig te maak voor die Allerhoogste nie? Dan is daar nie ’n makliker manier vir my om dit vir jou te sê nie, jou geestelike lewe is in ’n sieklike toestand.
Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het. Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. Johannes 14:24-26
My vriend, dit is tyd dat ek en jy saam terugdraai na die kruis op Golgota en werklik sien wat daar gebeur het. Werklik sien waardeur Jesus gegaan het toe hy geslaan en deursteek is vir my en jou sondes.
Hoekom koester jy daardie sondes wat jou Verlosser so seer gemaak het?
Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word Matteus 6:9
Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Matteus 5:8
No comments:
Post a Comment