Monday, 13 July 2009

TULIP as eenheid


Daar is al baie gedebatteer oor die vyf punte van Calvinisme ook bekend as TULIP:

Total Depravity

Unconditional Election

Limited Atonement

Irresistible Grace

Perseverance of the Saints

Dit is baie belangrik om te verstaan dat hierdie vyf punte nie deur Calvyn self opgestel is nie, maar as antwoord op die dwalinge van Armenius en sy volgelinge deur die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande in 1618 en 1619 in Dordrecht en dat TULIP ‘n basiese opsomming is van die vyf hoofstukke van die Dordtse Leerreëls.

TULIP is wel gebasseer en gebou op die leringe van Calvyn, die vroeë kerkvaders soos Augustinus en uiteindelik die leer van die vroeë kerk, die leer van die Apostels self, maar dit is ook nodig om in ag te neem dat TULIP slegs gebasseer is op ‘n gedeelte van die teologie van Calvyn, in spesifiek Soteriologie en nie die totale omvang is van sy teologie nie. Calvyn se teologie begin en eindig by God en sy Soewereiniteit.

Die doel van hierdie skrywe is egter om daarop te wys dat die vyf punte van TULIP nie afsonderlik van mekaar beskou kan word nie, dat mens nie een kan hou maar nie die ander nie. Hiermee poog ek om te bewys dat TULIP ‘n onlosmaakbare eenheid is wat vyf onderafdelings van ‘n geheel is, soos ek ook glo die oorspronklike bedoeling van die Dordtse Leerreëls is. Verder sal hierdie skrywe ook uitwys hoe fataal die verwerping van een van hierdie punte is.

Die feit dat die mens totaal gevalle is en gebonde is in sonde (T) bepaal dat hy in geen mate enigsins homself kan red nie en dat God die werk van redding moet doen gebasseer op Sy voorbesluit en uitverkiesing van die wat Hy sal red (U). Daarom het Hy Sy Seun gestuur om die straf van die sondes van hulle wat gevalle is en deur Hom tot lewe uitverkies is te dra, en die toorn van God se geregtigheid is op Sy Seun uitgegiet in die plek van die uitverkorenes. Daarmee is hul sonde volkome betaal en is daar geen skuld meer daaraan verbonde nie, en daarom kon Jesus aan die kruis sê dit is betaal en leer Romeine 8:1 ons dat daar geen meer veroordeling vir die uitverkorenes is nie. God is regverdig en sal nie iemand straf indien daardie straf reeds uitgedien is nie, daarom is die bewering dat Jesus vir die hele wêreld, selfs diegene wat nie uitverkies is tot die lewe nie, se sonde gestraf is 'n dwaling en weet ons volgens God se regverdigheid dat hierdie straf op Jesus afgekom het slegs vir God se uitverkorenes (L). Wanneer die Heilige Gees hierdie genade wat God aan die uitverkorenes wil bied aan hulle voorhou en die toestand van die sondaar voor 'n heilige God openbaar, kan hy nie anders as om hierdie genade te ontvang nie (I), dit is vir hom onweerstaanbaar, hy wat dood is het tot die besef gekom dat hy dood is, sal die lewe wat hom gebied word nie kan of wil weier nie. Die refleksie op sy gevalle toestand en die besef van die heiligheid van God tesame met God se soewereiniteit in die uitverkiesing van hulle wat die effektiewe roep van die Heilige Gees ontvang het loop altyd hand aan hand en is onlosmaakbaar van mekaar. Dit bring ons by die laaste punt, die volharding van die uitverkorenes, of die volharding van die heiliges (P) wat saam met die res van die punte staan, aangesien die res van die punte duidelik bewys dat redding en saligheid 'n werk van God is en geen hand van die mens in het nie. Dit leer dat die mense nie 'n keuse kon uitvoer in sy saligheid nie en dat as hy eenmaal nie die genade van God kon weerstaan nie, hy deur daardie selfde genade wat hom gered het in bewaring gehou sal word en nie weer 'n keuse kan of sal uitvoer om daardie saligheid te verloor nie, aangesien hy na die eerste verligting van die Heilige Gees nie die genade kon weerstaan nie. God het die mens gered vir sy Heerlikheid om sy Naam groot te maak en sal dus ook die mens hou in daardie toestand, want dieselfde God wat magtig genoeg was om sy volk uit Egipte te lei is magtig genoeg gewees om sy volk in die beloofde land in te lei, om sy Naam ontwil en vir geen ander rede nie.

Die verwerping van die totale gevalle toestand van die natuurlike mens lei tot Palagianimse wat leer dat die mens in staat is om God te kies, dit loop uit op ‘n werke godsdiens waar die mens ‘n hand in sy saligheid het. (Rom 3:11, Rom 3:23, Rom 5:12, Rom 5:16, Rom 6:23)

Die verwerping van die absolute uitverkiesing van die mens deur God lei tot ‘n verwerping van die Soewereiniteit van God en ontneem God van sy posisie as die Bewerker van die saligheid van die mens, maar maak eerder die mens God se instaatsteller deur sy humanistiese keuse. (Joh 17:6, Hand 13:48, Rom 8:29, Ef 1:4)

Die verwerping van die beperkte boetedoening en versoening van Jesus aan die kruis maak God onregverdig in die sin dat Hy daardeur sondaars wat nie tot saligheid gekom het nie weer straf vir ‘n straf wat reeds uitgedien is deur Jesus aan die kruis. (Deut 32:4, Ps 145:17, Joh 10:15, Hand 17:31)

Die verwerping van onweerstaanbare genade maak dat genade nie meer genade is nie en totaal krag verloor aangesien hierdie genade van God dan nie in staat is om volkome te red nie aangesien dit deur die mens geweier kan word. (Eseg 36:26, Rom 3:24, Ef 2:8, Heb 8:10)

Die verwerping van die volharding van die heiliges maak God en Sy Naam tot ‘n bespotting, want dieselfde God wat volkome en alleen saligheid kan bewerk is dan nie meer in staat om deur daardie selfde krag diegene wat Hy uitverkies het in bewaring te hou tot die dag van verlossing nie. (Joh 10:28, Rom 8:35, 1 Kor 1:8, Ef 4:30)

Dus, vanuit die verstaan van die betekenis van elk van die afsonderlike punte kan ook gesien word dat hierdie punte onlosmaakbaar van mekaar staan, daar waar die een staan, staan die ander ook, daar waar die een val, val die ander ook. Geen van hierdie punte kan afsonderlik gehou word nie en al hierdie punte word deur die volheid van die Skrif bevestig en saamgesmelt.

2 comments:

  1. As mense opinies lig is dit goed om dit te lees en te besluit of jy saam stem maar om iemand se interpetasie te afdruk as dwaal leer dan gaan rooi ligte aan. Ek het groot geword in die drie suster kerke en het eers tot redding gekom 5 jaar gelede en ek weet dit as gevolg van my eie "Damaskus" experience. My hele lewe het verander. Ek het belydenis van geloof afgele in die NG kerk maar ek weet ek was nie gered nie want ek weet ek het dit gedoen omdat al die ander dit gedoen het. My vraag is nou, sienende dat ek Saligheid het, wanneer was ek dan uitverkies, die dag toe ek tot redding gekom het, toe ek as baba gedoop was of toe ek belydenis van geloof afgele het. As jy se dit kan nie van mekaar verwyder word nie, ek dink ek is verwyder van jou TULIP punte.

    Ek dink persoonlik verstaan jy die begrip van besluitneming verkeerd. Deur te se ons het 'n keuse om Hom te aanvaar of nie, neem niks weg van God se grootheid nie, daar is paar skrif wat dui op gesterf vir almal, die keuse is niks met werke te doen nie maar om te belei dat ons in Christus glo in totaliteit.

    Daar is so baie mense wat a millenium is en so baie ander wat pre millenium is maar om die een af te skiet as dwaalleer, ek sal versigtig wee som so ver te gaan. As dit jou interpetasie is, dan great, ek weet ten minste ek is gered en dit is wat saak maak, en ek glo as jy gered is, sal jy dit ook weet. My dogter van 7 het paar aande terug vir my gese, omrede ons creation to Christ met haar doen en sy besef dat ons is sondig en op ons eie kan ons niks doen om gered te word nie en sy verstaan die stories in die ou testament wat verwys na Christus se koms waar die bloed gebruik word en toe ons by Sy opstanding kom, het sy dadelik verstaan en met trane gese, pa ek glo in Christus en wat Hy vir my gedoen het en in Sy saligheid en nou weet ek dat Hy vir my gesterf het. Sy het belei met haar mond en ons kan van toe af die verandering in haar lewe sien... moet ek nou wag vir haar om belydenis van geloof af te le as sy 16 is? Ek het vergeet, ons is sendelinge so wanneer kan sy belydenis van geloof af le?... verstaan jy my punt?

    ReplyDelete
  2. Mnr/Me

    Ek plaas graag jou kommentaar op die TULIP as eenheid skrywe.

    Vir my is dit egter duidelik waar die probleem in u verstaan van TULIP vandaan kom en dit is 'n algemene probleem onder mense wat vashou aan 'n geloof van menslike besluitneming. Sulkes erken basies alles van God se bepaling en beskikking, sy uitverkiesing, tot op 99%, dan sê die hart (wat bedrieglik is Jer 17:9), maar ek moet 'n hand hierin hê en dan kom die menslike besluitneming in en ek sien dit duidelik vanuit u plasing hierbo.

    Hoekom sê ek dit?

    Want u verwys na Paulus se bekering en volg daarmee op dat u 'n soorgelyke bekering gehad het deur wat sekerlik in u oë 'n keuse tot aanneming was, maar kom ons kyk na Paulus se bekering, vanuit sy eie woorde:

    Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het,
    Galasiërs 1:15

    U sien, Paulus plaas glad nie sy eie hand in sy saligheid nie, maar gee alles alle eer daarvoor aan God, nie aan 'n keuse wat hy gemaak het nie, nie aan toeval nie, want God is die beskikker en die bepaler van die mens se lot.

    Verder word dit vir my net in 'n plasing meer duidelik dat u graag 'n hand in u eie saligheid wil hê deurdat u nog vrae vra soos wanneer word u gered, by belydenis van geloof in die kerk ens ens. Ek meen, u sal tog saam met my stem dit is dat so 'n standpunt verwronge is en dat ek u kan verseker, geen Calvinis hou so 'n standpunt nie. Deur die hand van God kan 'n 5 jarige gered word en 'n 80 jarige verlore gaan, want u sien, dit gaan nie oor die mens wat beskik of bepaal nie, maar oor God en sy Soewereine Wil.

    Verder vanuit die wonderlike verhaal wat u van u eie dogter vertel kom weereens God se bepaling en beskikking soos 'n sonstraal deur die wolke!

    Wie het haar in die ouer huis geplaas waar sy is om onder u goeie leiding die Woord te kan leer? U gaan sê God! Wie het u die kennis gegee om vir haar die Woord te verkondig, u gaan sê God, deur die werking van die Heilige Gees! Wie het die Woord daar gestel sodat ons daardeur die evangelie kan ontvang? Weereens sal u saam met my stem dit is God, soos dit God is wat bepaal het om sy Seun te stuur vir ons versoening en dat ALLES gebasseer word op sy bepaling en beskikking. Volgens u model van menslike besluitneming sou dit dus moontlik gewees het dat GEEN mens Jesus sou aanneem as Verlosser nie. Dink u waarlik God sou so met sy eie Seun gedobbel het?

    Daarmee sal u ook nie saamstem nie, want u sien, u sal selfs vir my erken dat dit God is wat u uit die riool van hierdie wêrled kom uit haal het, hoekom wil u Hom nie ook die eer gee vir u Verlossing en die bewerking daarvan nie?

    As u dit verstaan, dan sal u vanaand met 'n gerukde hart voor God gaan neerval en dankie sê dat Hy deur die werking van die Heilige Gees u dogtertjie se hart oopgeruk het om die ingeplante Woord te ontvang, iets wat u nie kon doen nie, iets wat sy nie kon doen nie, iets wat God bewerk en bepaal. Dit is waar ware vreugde vandaan kom, dit is waar ware sekerheid vandaan kom, uit die hand van 'n Soewereine God.

    Ek wil u tog aanraai om ook die skakels na die 3 artikels oor die uitverkiesing te lees op hierdie blog, dit behoort vir u tot groot waarde te wees.

    Groete

    ReplyDelete