Saturday, 22 August 2009

Die Evangelie is vir Almal

Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn
Titus 2:11

Dit wil vir my voorkom asof daar 'n mate van verwaantheid onder Calviniste begin insluip en dit is dat aangesien Jesus slegs die sondes van die uitverkorenes aan die kruis gedra het, die evangelie nie aan die hele wêreld verkondig moet word nie, dat ons moet agteroorsit en toelaat dat God red en onsself nie besig hou met die prediking van die evangelie aan 'n verloregaande wêreld nie.

Hierdie posisie is niks anders as klassieke Hiper Calvinisme nie, ons moet nooit vergeet die mens het 'n verantwoordelikheid en die mens het 'n opdrag, God se soewereiniteit negeer in geen mate ons verantwoordelikheid en opdrag nie. Dit is nodig dat ons God se soewereiniteit altyd bo-op stel, dat ons dit verstaan en dat ons dit aan ander leer, maar ons kan nie ten koste van God se soewereine wil sy geopenbaarde wil ignoreer nie.

God se geopenbaarde wil is dat ons die evangelie moet verkondig, tydig en ontydig. Hou op verskonings soek en hou op jou opdrag versuim, daar is mense wat verlore gaan, het ons dan nie meer 'n hart vir verlore siele nie? Laat God bepaal watter harte Hy gaan voorberei in ontvanklike grond en laat ons oral saai solank daar nog geleentheid is om te saai.

Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Matteus 28:19