In ons pogings om akkomoderend te raak tenoor alle groepe en denominasies, is ons nie in wese besig om in 'n mate relatief te begin raak teenoor ons eie oortuigings nie?
Ek vra die vraag, want daar word in die naam van eenheid deesdae 'n menigte leerstellige verskille onder die mat ingevee. Is hierdie verskille nie besig om meer wesenlik te raak as wat ons te kenne wil gee nie?
Kom ons begin by 'n eerste voorbeeld, wedergeboorte. Jesus sê tog in Johannes 3 duidelik dat wedergeboorte totaal 'n werk van die Heilige Gees is, dat daar geen menslike hand by betrokke is nie. Romeine 3 leer vir ons dat niemand God gesoek het nie, dat almal gesondig het en ontbreek aan die heerlikheid van God, maar daar is diegene wat vandag in die meerderheid is wat glo 'n mens kan wel daardie eerste tree neem in die oorbrugging van daardie skeiding tussen mens en die heerlikheid van God, hierdie was die wortel van Palagianisme, wat geleer het dat die mens nie werklik so totaal gevalle is nie en dat hy wel sy sonde kan oorbrug om by God uit te kom. Diesulkes wat hierdie dinge geleer het in die vroeë kerk is duidelik uitgemaak as ketters, tog durf mens nie vandag opstaan en dit bestry nie, dan is jy arrogant en verwaand.
Dit is altyd vir my verstommend wanneer ek sien hoe gaande die hedendaagse Armeniaan is oor Spurgeon, maar dit is ook net 'n bewys van die feit dat ons 'n generasie geword het wat nie meer lees nie, wat so los en vas met inligting omgaan dat ons alles buite konteks aanhaal, is dit nie dieselfde Spurgeon wat uitlatings gemaak het soos:
I believe the man who is not willing to submit to the electing love and sovereign grace of God, has great reason to question whether he is a Christian at all, for the spirit that kicks against that is the spirit of the devil, and the spirit of the unhumbled, unrenewed heart.
En verder:
Answer me, ye that deny God’s sovereignty, and hate his election—how is it that angels are condemned to everlasting fire, while to you, the children of Adam, the gospel of Christ is freely preached? The only answer that can possible be given is this: God wills to do it.
Maar laat mens vandag so 'n uitlating maak, jy sal jouself baie vinnig op eukomeniese brandstapel bevind.
Nog 'n voorbeeld is wanneer dit kom by die lering oor en die werking van die Heilige Gees. Wanneer geloofsgemeenskappe die klem verkeerd begin plaas op die lering oor en die werking van die Heilige Gees en mens durf hulle daarop uitwys dat hulle die Heilige Gees beklemtoon in hul aanbidding ten koste van die Vader en die Seun, dan word jy afgemaak as een wat die werking van die Heilige Gees wil onderdruk. Tog leer die Woord in sy volheid vir ons dat die werking van die Heilige Gees is om altyd terug te wys na Christus en wat Hy ons geleer het aangaande die Vader soos Hy Homself aan ons in Christus geopenbaar het. Jesus leer self vir ons hieraangaande wanneer Hy sê:
Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.
Johannes 16:13-15
Mag 'n mens die waarheid verswyg om eenheid te bevorder? Nee, jy mag dit nooit doen nie en wanneer die Woord iets leer dan kan ons dit neem as waarheid. Dit is nie 'n kwessie van ek wat dink dat skrifinterpretasie by my begin en eindig nie, maar die Skrif wat homself verklaar en daarteen durf ons nie skop nie en ons durf daardie waarheid ook nie stil hou om 'n kunsmatige eenheid te bevorder nie. Dit is hartseer dat ons so verskil, maar ons sal ook moet besef, almal kan nie altyd reg wees nie, iemand is reg en iemand is verkeerd, iemand verkondig die Woord suiwer en iemand verdraai dit. Eenheid is in Christus, Christus is die volkome waarheid.
Of ons dit wil erken of nie, waarheid het in die kerk relatief geword, dit is nie meer 'n kwessie van wat die Woord leer nie, maar 'n kwessie van waarmee is ek gemaklik. Wanneer ek nie gemaklik daarmee is dat God beskik en bepaal nie, dan sê ek 'n mens moet 'n keuse uitvoer om gered te word. Eerlikwaar, my vlees is nie gemaklik daarmee dat God beskik en bepaal nie, maar dan weet ek ook, my vlees is in rebellie teen God, so wat kan ek, o mens, dan anders doen as om myself as God se kind onder sy gesag te plaas.
Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?
Romeine 9:20
No comments:
Post a Comment