Friday, 29 January 2010

Kerklike tug, Bybels of nie?

Ek het onlangs geantwoord op 'n vraag op Bible Forums se Lighuis afdeling aangaande wanneer 'n kerk nie meer 'n kerk is nie.

Nou hierdie is in sy wese 'n baie komplekse vraag, daar is baie elemente wat in ag geneem moet word, die leer van die gemeenete, word God verheerlik in die gemeente, is Jesus en die evangelie sentraal in die gemeente. Hierdie en nog ander elemente moet almal teenwoordig wees en as my antwoord op die vraag het ek wesenlike dwalings uitgesluit en genoem dat 'n kardinale element in 'n gemeente tug behoort te wees.

Ek is sterk van mening dat 'n gemeente met gesonde lering sonder 'n struktuur van beheer oor daardie lering en tug wanneer daar van daardie lering afgewyk word, glad nie sal kan doeltreffend funksioneer nie.

Wel, hiervoor is ek sterk gekritiseer met bewerings dat tug en gesag, struktuur en beheer in 'n gemeente nie Bybels is nie. Daarom my "kortlikse" verdediging van my posisie in die verband.

Dievolgende is grootliks uitgehaal en aangepas vanuit my argumente vir die ondersteuning van my posisie op Bible Forums.

Wanneer ek myself bely as deel van die liggaam van Christus, dan moet ek tot 'n hoër standaard gehou word om nie skade aan die naam van my Verlosser en hoof van die gemeente te bring nie. Wanneer 'n persoon afvallig lewe, sedeloos en wetteloos (buite die wet wat Hy op ons hart gegee het, buite die eienskappe van 'n ware gereddene), dan is dit die broeders se plig om op hom tug toe te pas.

Daar word beweer dat die Rooms Katolieke Kerk die struktuur daar gestel het van hoe ons vandag nog in georganiseerde gemeentes kerk hou, dit is bloot nie die waarheid nie, die Nuwe Testamentiese kerk is baie dieselfde as wat 'n ware kerk vandag na moet lyk, leraars, ouderlinge, diakens, lidmate, vrouebedienings onder die vroue ens. Ons kan dit immers nie ontken nie, kom ons kyk bloot net daarna:

En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
Matteus 16:18

Die rots wat Jesus van praat hier is nie Petrus nie en dit is waar die RKK dit verkeerd gekry het, as ons gaan kyk na die konteks van Matt 16, dan sal ons sien Jesus is sentraal die konteks, dat dit gaan oor wie Jesus is en toe Petrus hierdie antwoord gee, toe sê Jesus, dit is waarop Hy sy gemeente sal bou. Dit is waarvoor die reformasie gestaan het, dit is wat 'n ware kerk vandag nog is, iemand wat Jesus as die rots, sentraal in die gemeente plaas en dan kom die strukture van die kerk soos God deur Paulus aan ons openbaar het, hoe ons verder moet bou op hierdie Rots, op hierdie Fondament (1 Kor 3) en dit is:

Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.
So ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie,
maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke.
Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid.
Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou.
1 Timoteus 2:8-12

Hier begin Paulus vir Timoteus (wat op hierdie stadium as leraar van die gemeente in Efese staan) struktuur gee, hy begin ordereëlings deurgee en dit is wat ons deurgans in die briewe aan Timoteus sien.

Dit is 'n betroubare woord: as iemand na 'n opsienersamp verlang, begeer hy 'n voortreflike werk.
'n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig;
geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar vriendelik; geen strydlustige, geen geldgierige nie;
een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou.
Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?
Hy moet nie 'n nuweling wees nie, sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie.
Maar hy moet ook goeie getuienis hê van die buitestaanders, sodat hy nie in veragting en in die strik van die duiwel val nie.
Net so moet die diakens waardig wees, nie uit twee monde spreek nie, nie verslaaf aan wyn nie, geen vuilgewinsoekers nie,
manne wat die verborgenheid van die geloof in 'n rein gewete hou.
En hulle moet ook eers 'n proeftyd deurmaak; daarna, as hulle onberispelik is, kan hulle dien.
Net so moet die vroue waardig wees, geen kwaadspreeksters nie, nugter, betroubaar in alles.
Die diakens moet manne van een vrou wees en hulle kinders en eie huis goed regeer.
Want die wat goed gedien het, verkry vir hulle 'n eervolle plek en veel vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus.
Ek skryf jou hierdie dinge in die hoop om gou na jou te kom.
Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, 'n pilaar en grondslag van die waarheid.
En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.
1 Timoteus 3:1-16

Hier hanteer Paulus die ampte in die kerk en hoe weet ons hy praat hier van 'n gestruktueerde samekoms op 'n bepaalde plek soos ons vandag kerk hou, eenvoudig, sy verwysing na die huis van God, 'n plek waar die liggaam bymekaarkom (in 'n bepaalde huis of in 'n sentrale plek) waar God verheerlik word.

So kan ons aangaan reg deur Timoteus en Titus, ons praat hier van 'n gestruktueerde kerk, 'n kerk met orde wat 'n God van orde dien, 'n kerk met bepaalde leerstellings wat Bybelsgefundeer dis:

Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.
1 Timoteus 4:16

Hier kom 'n baie duidelike instruksie van Paulus af aangaande leering en vermaning:

Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk:
verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;
want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van 'n evangelis; vervul jou bediening.
2 Timoteus 4:1-5

Ek lees harde woorde in hierdie teksgedeelte, ek lees van weerlegging, ek lees van vermaning, ek lees van bestrawwing, maar ek sien die gesindheid waarin dit moet geskied, in lankmoedigheid en lering. Niemand sê tug moet dadelik 'n afsny wees nie, as iemand so 'n ondervinding gehad het in 'n gemeente is ek jammer, maar dit is nie Bybels nie, vermaning is nooit grooter as die persoon wat vermaan word nie, tug is nooit grooter as die persoon wat getug word, wat bestraf word nie, die doel van vermaning, tug, bestrawwing, weerlegging is altyd met die doel van herstel, MAAR, daar kom 'n punt waar besef word dat hierdie persoon moontlik nie herstel en bekering soek nie, dan moet ons oorgaan tot beskerming van die leer en die liggaam en dan doen ons wat Jesus leer:

En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin;
maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan.
En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.
Matteus 18:15-17

Wat is hierdie dan anders as tug met die doel van herstel totdat daardie persoon self nie bekering en herstel soek nie. As Jesus sê ons moet so 'n persoon dan beskou as heiden en tollenaar en dat lig nie gemeenskap het met duisternis nie, hoekom is ons so slap deesdae om die liggaam te beskerm teen die skade wat goddelose "lidmate" aan die beeld en naam van die bruid doen? Die "kerk" is in die toestand waarin hy is oordat daar nie tug toegepas word nie, ons kan heen en weer hieroor redeneer, maar dit is 'n Bybelse begrip, nog meer, 'n Bybelse opdrag binne 'n Bybelsgestruktueerde gemeente. As my kop uithaak is dit die broeders se plig om tug toe te pas, ek is nie bo die Woord nie, ek is nie bo tug nie, inteendeel, ek verwelkom tug in my lewe en ek begeer leiers wat mans genoeg is om daardie tug toe te pas soos en wanneer nodig.

Die hartseer is dat wanneer mens wel vanuit die Bybel hierdie bewyse aangaande tug en struktuur uitwys, dan is die logiese stap van daar af een wat ons veels te veel hoor vandag, dit is wetties en so ook is ek in hierdie bespreking beskuldig daarvan dat die evangelie wat ek verkondig wetties en genadeloos is, tog is dit duidelik Bybels. Ons is besig om 'n wesenlike fout te maak as ons beweer strewe na heiligmaking en die toepaslike vermaning en tug wanneer 'n persoon die pad byster raak is wetties, dit is nie wat wettisisme behels nie, daarom sal ek in dievolgende plasing die saak van wettisisme hanteer, veral in die konteks van wettisisme teenoor heiligmaking en of die twee dieselfde is of nie, of ons moet strewe na wetsgehoorsaamheid, of heiligmaking.

No comments:

Post a Comment