Friday, 19 February 2010

Is tug en 'n strewe na heiligmaking wetties?


So, wat is wettisisme dan nou eintlik?

Wettisisme is wanneer ek my saligheid deur werke probeer verdien. Dus plaas ek myself vrywilliglik onder reëls en wette om daardeur guns by God te probeer wen, hierdie is die model en fondament van alle godsdienste behalwe die van die Christen geloof.

Die Christen geloof se basis lê in geimputeerde geregtigheid. Oordat Jesus die geregtige toorn van God vir my sonde op Homself geneem het en oordat die Heilige Gees wedergeboorte in my bewerk het deur die evangelie, staan ek weer in gemeenskap met God die Vader soos Adam en Evan voor die sondeval. Dus hang my verhouding met God nie meer af van my prestasie nie, maar is eerder geanker in die volkome werk wat Christus vir my gedoen het, nie meer my prestasie nie, maar sy prestasie.

Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
2 Korintiërs 5:21

Maar, en dit is die groot maar, wat gebeur nou? A.g.v. my wedergeboorte ontvang ek nou 'n nuwe natuur, 'n natuur wat nie meer in rebellie met God is nie, maar 'n natuur wat in alles die Vader wil behaag en verheerlik, nie uit dwang nie, maar uit liefde, uit gehoorsaamheid. Dit is 'n natuur wat gedring word deur die werking van die Heilige Gees in my, 'n natuur van gehoorsaamheid, 'n natuur waar die hart gefokus is op God eerste in alles, dit is waar die strewe na heiligmaking begin.

Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes.
1 Johannes 4:10

Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.
1 Johannes 3:9

1 Johannes 3:9 praat nie van 'n staat van perfeksionisme of 'n staat van 'n totale ontwortelde sonde nie, maar getuig van die tweede natuur wat die persoon ontvang wat uit God gebore is, wedergebore is. Hierdis is 'n natuur wat geregtig is in Christus en deur Christus se versoeningswerk, vers 9 spruit voort uit vers 5 wat leer:

En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie.
1 Johannes 3:5

Johannes gee ook vir ons meer duidelikheid in die volgende hoofstuk as hy skryf:

Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.
1 Johannes 4:9

Tog, wanneer ons begin praat oor 'n heilige lewe en die praktiese implikasies van so 'n lewe, skree almal wettisisme. Wanneer ons begin praat van tug, wat ons reeds vasgestel het Bybels is, wanneer ons praat van vermaning en mense oproep om self heilig te lewe, dan word ons beskuldig daarvan dat ons wetties is. Maar is dit nie die Woord wat ons leer?

Want dit is die verbond wat Ek na dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.
Hebreërs 8:10

Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;
Hebreërs 12:14

Dus, wedergeboorte gee ons nie 'n mandaat tot 'n lewe van wetteloosheid nie, maar stel on egter in staat om God te kan behaag vanuit 'n nuwe natuur, 'n nuwe gemoed en dit is juis wat Paulus leer as hy skryf:

So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.
Romeine 7:26

Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.
Romeine 12:1-2

'n Lewe wat strewe na heiligheid en geregtigheid kan nooit geklasifiseer word as een wat homself onder die wet wil plaas en so wetties word nie, nee, dit is juis hierdie persoon wat die vrug dra as bewys daarvan dat hy in gemeenskap met die Vader wandel. Sy vrug, sy werke dien nie meer as die middel waardeur hy sy saligheid probeer beweerk en guns by God verdien nie, die teendeel vind nou plaas, sy vrug en werke getuig daarvan dat God in hom 'n werk gedoen het, 'n nuwe saad, 'n Goddelike saad in hom geplant het, 'n saad wat vrug dra wat by sy getuienis van wedergeboorte pas. Dit is in en deur die Heilige Gees bewerkte vrug van God se kinders wat Hy verheerlik word.

Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.
Jakobus 2:17

Jakobus leer 'n geloof sonder werke is dood, want die werke wat voortspruit uit 'n ware geloof sal getuig van die welsyn van daardie geloof. 'n Geloof wat min werke oplewer is 'n geloof wat nie sterk is nie, 'n geloof wat baie werke oplewer dien as 'n teken en bewys van 'n sterk geloof of soos Johannes van Gajus getuik in 3 Johannes, 'n gesonde siel. 'n Geloof wat geen werke oplewer nie, dui op 'n dooie geloof, oftewel, die afwesigheid van geloof. Hoe weet ons dit? Want Galasiërs 5 leer ons dat dit die Heilige Gees is wat vrug bewerk in ons, as daar dus geen vrug aanwesig is nie, getuig dit daarvan dat die Heilige Gees nie in so 'n persoon se lewe aanwesig is nie en die uiteinde daarvan is 'n redelike afleiding dat so 'n persoon nie wedergebore is nie.

Dus durf ons nooit een wat strewe na geregtigheid a.g.v. die werking van die Heilige Gees in hom of een wat tug toepas wanneer daar 'n broeder is met 'n getuienis van wedergeboorte sonder die vrug wat daarby pas nie, brandmerk as een wat wil terugdraai na die wet toe en homself en ander onder die wet wil plaas nie.

Dit is tyd dat ons begin besef dat nie almal wat sê Here, Here waarlik in gemeenskap met Hom is nie en dat ons, onsself eerstens sal ondersoek aan die Woord of ons die vrug dra wat by wedergeboorte pas en dan wanneer ons, ons eie oog ondersoek het vir 'n balk en een daar nie gevind het nie, spoedig uit liefde daardie broeder wat nie vrug dra om sy getuienis van wedergeboorte te staaf nie, dringend aan te spreek. Daar is meer op die spel hier as populariteit of gemeentegroei, mense se siele is op die spel en baie leef salig voort in 'n valse versekering oordat niemand bereid is om daardie persoon aan te spreek nie. Diegene wat hulle wat wel tug en vermaning toepas aanval met 'n valse vermaning van wettisisme, help nie die situasie nie. Inteendeel, hulle versterk net valse fondamente vir mense wat getuig dat hulle wedergebore is, maar die vrug daarvan nie dra nie. Durf ons sê, maar hulle maak valse bekeerlinge en sodoende word daardie valse bekeerlinge a.g.v. hul valse sekerheid kinders van die hel.

Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. 'n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar 'n slegte boom dra slegte vrugte. 'n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle aan hul vrugte ken. Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie; maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.
Matteus 7:16-21

Julle moet of die boom goed maak en sy vrugte goed, of julle moet die boom sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken.
Matteus 12:33

No comments:

Post a Comment